Fisika (uit Antieke Grieks: φυσική (ἐπιστήμη) phusikḗ (epistḗmē) "natuurkennis", van φύσις phúsis "natuur") is die wetenskap van die natuur in die breedste sin. Fisici bestudeer die gedrag en eienskappe van materie in ’n groot verskeidenheid verbande, wat wissel van die subatomiese deeltjies wat die boustene van alle gewone materie is (deeltjiefisika) tot die gedrag van die materiële heelal as ’n geheel (kosmologie). Sommige van die eienskappe wat in fisika bestudeer word, is geldig vir “alle” materiële stelsels, soos die behoud van energie. Na sulke eienskappe word dikwels verwys as die "wette van fisika". Fisika word somtyds 'n “fundamentele wetenskap” genoem, aangesien elkeen van die ander natuurwetenskappe (biologie, chemie, geologie, ens.) te doen het met sekere soorte materiële stelsels wat die wette van fisika gehoorsaam. Chemie is byvoorbeeld die wetenskap van molekules en die chemikalieë wat hulle vorm. Die eienskappe van ’n chemikalie word bepaal deur die eienskappe van die onderliggende molekules wat akkuraat beskryf kan word deur velde van fisika soos kwantummeganika, termodinamika en elektromagnetisme. Fisika is ook nou verwant aan wiskunde. Fisiese teorieë word amper altyd uitgedruk deur gebruik te maak van wiskundige vergelykings, en die wiskunde wat betrokke is, is in die algemeen ingewikkelder as in die ander wetenskappe. Die verskil tussen fisika en wiskunde is dat fisika hom hoofsaaklik bemoei met beskrywings van die materiële wêreld, terwyl wiskunde hoofsaaklik gemoeid is met die abstrakte patrone wat nie noodwendig daarop van toepassing is nie. Die onderskeid is nie altyd voor die hand liggend nie. Daar is 'n breë navorsingsveld tussen fisika en wetenskap wat bekend staan as wiskundige fisika, wat hom toewy op die ontwikkeling van wiskundige strukture van fisiese teorieë.
Developed by StudentB